03 mrt 2015
Stef Bos. Foto: Michael Hammond

Stef Bos neem jou op kop-reise deur die wêreld

dinsdag 03 maart 2015, Beeld, Paul Boekkooi

Paul Boekkooi

Kaalvoet deur die ­wêreld – Stef Bos

Aula, Pretoria 

Ouerskap mag dalk van Stef Bos ’n sagter mens gemaak het, maar dit neem nog geensins die feit weg dat groot kunstenaars op die een of ander manier altyd opstandelinge sal bly nie. Hulle is ontevrede oor ’n mensdom wat nie reg funksioneer nie.

Hulle uiter dit vreesloos in songs (soos Bos dit noem), asook vertellings en kommentaar waarin humor en erns vryelik met satire, ironie en parodie deurmekaargeklits word. Veral parodie skuur volgens letterkundiges gevaarlik naby aan estetiese kannibalisme, terwyl satire en ironie geensins óóit deur die primitiewe breine van fanatiese ondersteuners van byvoorbeeld selfgesentreerde en selfregverdigende godsdienste begryp sal word nie.

Binne ’n wêreld in chaos, bied elke strooihalmpie hoop. Bos het, as teenwig, ook oorgenoeg dáárvan aan sy gehoor uitgedeel in sy jongste vertoning, Kaalvoet deur die wêreld, wat vir bykans ses maande wyd deur die Nederlande en Suid-Afrika getoer het.

Saterdag was die sluitstuk van sy en sy vier inspirerende musikante se omswerwinge. Bos het rondom die eeuwisseling na Nederland verwys as synde ’n vaderland, België as ’n moederland en na Suid-Afrika as sy niemandsland. Hoe het tye nie verander nie, want Bos verwys nou trots na ons as die land van sy tuiskoms.

Gelukkig was die goue draad dwarsdeur Kaalvoet die verskillende vorms wat liefde aanneem en die dade wat dit verg.

Hy mag dan weliswaar sing van “jy maak van my ’n beter mens,” maar daardie woorde word nooit deur sentiment verswelg nie. Dit impliseer en dui op iets veel dieper.

Sy praktiese ervaring daarvan verwoord hy só: “Liefde is oorgawe. Dit vat lank om by dié begrip uit te kom.”

Bos leer jou ook ’n katalogus van mensetipes in verskillende liedjies ken. Sy ode aan die genot, “Hier en nu”, met ’n stamperige blues-ritme, laat tog ’n wrang smaak en ’n bedekte vingerwysing agter. Sy liedjie oor Pieter, die San-afstammeling wat ’n spoorsnyer in die Angolese bosoorlog was en wat deur Bos en sy dogtertjie in ’n diepe roes op ’n sypaadjie gevind is met ’n leë wynbottel in sy arms, gryp jou aan oor ons land se onregverdige verledes én hedes.

Maar dan was daar ook sy kostelike vertelling oor sy gereformeerde opvoeding in ’n Nederlandse dorpie, waar gemeentelede skelm-skelm die (enigste) plaaslike kroeg besoek het en hoe Bos en sy maats dit reggekry het om ekstra sakgeld te verdien.

Dit is ook slegs ’n kunstenaar van sy kaliber wat uiteindelik vir sy vrou kon sê: “Ek voel soos ’n walvis in die Limpopo. Ek wil met jou trou  . . .” Sy vertelling oor ’n kroeggesprek in Naboomspruit (Mookgophong) en die liedjie “Moenie met my k*k” soek nie” wat daaruit voortgespruit het, het die gehoor pap gehad van die lag.

Maar dan: Nog veel meer onvergeetlik was sy herinterpretasie van byvoorbeeld Kerkorrel se “Hillbrow” en Koos Kombuis se “Onder in my whiskeyglas”.

Groot dank aan Stef, sy vier musikante en Paulette Reyneke wat hulle hierheen gebring het.