Persarchief

Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!

 

Verhoogfilosoof

woensdag 22 maart 2000, Sarie, Suzette Truter

Stef Bos was sestien toe hy op die atletiekbaan 'n meisie in 'n donkerblou reënjas op 'n afstand gesien het. Tuisgekom, het hy sy hart uitgeskryf. In Engels. (Jy durf nie oor so iets skryf in jou eie taal nie, dis te konfronterend, sê hy met 'n glimlag.)
Hy het nie weer ophou skryf nie -- daar's 'n kas vol liedjies wat nog nooit uitgereik is nie, maar talle ander het huis gekry in musiekversamelings in Europa, ook hier.

Sedert sy eerste album, Is Dit Nou Later, in 1990 uitgereik is, het hy meer as 'n halfmiljoen CD's in Europa verkoop. 'n Keur van sy musiek, Beste Van Bos, spesiaal vir Suid-Afrika saamgestel, is pas uitgereik, en val saam met sy eerste landwye toer, Zien, wat ook die Klein Karoo Kunstefees op Oudtshoorn insluit.

Stef het pas De Gouden Harp, Nederland se grootste musiekprys, ontvang. Dis 'n eer, ja, maar vir hom is dit nog belangriker om met sy liedjies die stille man se stem te laat hoor en ander se lewens te raak -- al is dit net "om hul lewe met een graad te laat koers verander".

Moeilik om te glo dat die man wat nog altyd gek was na musiek eers op 23 geleer het om klavier te speel. Maar filosofeer, dié het hy altyd. Dis in sy liedjies, wat jou aan die nekvelle gryp. "Ek wil hê mense moet met my liedjies iets voel wat hulle nie kan beskryf nie. Dit moet jou raak. Ek soek daarna. Of ek dit gevind het, weet ek nie."

'n Dekade in die musiekbedryf... watter oomblikke staan uit?
Onlangs is ek in Nederland met De Gouden Harp bekroon. Dié oggend ry ek op my fiets verby die dramaskool in Antwerpen, België, waar ek student was. En opeens staan alles stil. Dit was asof my hele lewe voor my afspeel. Ek het eensklaps die enorme wete dat ek 'n pad afgelê het. Dís vir my belangrik. Dat jy insig gekry, jou horisonne verbreed.

By die ontvangs van die prys was dit ook so, asof ek na 'n rolprent van my eie lewe kyk. Ek is nie sentimenteel nie, maar ek was ontroer daardeur.

My eerste besoek aan Suid-Afrika was ook besonders. Ek het Johannes Kerkorrel in België leer ken. In 1993 het ons in Johannesburg saamgewerk met Tandie Klaasen. Toe sy haar mond oopmaak, het ek hoendervleis gekry. Voor my was 'n wêreld wat ek nie ken nie. Dis soos 'n Afrikaner wat vir die eerste keer in Parys voor 'n katedraal uit die jaar 1400 staan. Dit slaan jou in die maag.

Dit klink vreemd, maar een van die heel mooiste oomblikke in my lewe was toe my moeder, Neeltje, drie jaar gelede oorlede is. Sy het kanker gehad. Dit was 'n sirkel wat voltooi is, mooi eg.

Jou pad het in 'n klein Nederlandse dorpie begin.
Veenendal is 'n konserwatiewe Prostestantse dorpie. My pa, Bertus, was goudsmid. Daar sou ek ook eindig as goudsmid, maar ek het uitgestap. En as jy dit doen, kom jy nie terug nie. Jy is 'n verlore skaap. Ek is die kudde kwyt, en die kudde is my kwyt, gelukkig tog...

My ouers was goeie, gelowige mense. Dis die soort huis en opvoeding waar ek steeds okay was, al was die dorp eng en party gesagsfigure skynheilig.

Ek het weggestap van die konvensie van reëls.Vir my bestaan daar nie waarheid nie. Vir my is dit interessanter om die vraag te stel as om die antwoord te hoor. Dis een van die redes hoekom ek begin skryf het; dis 'n soort skreeu in my, 'n soektog sonder antwoord.

Het jy al as kind musiek gemaak?
Kabaret op skool, ja. Ek het daarna in Utrecht gaan studeer. Eers geskiedenis vir twee weke. Toe sien ek die mooiste meisie by sielkunde en ek gaan studeer sielkunde. Vyf jaar lank. Op 23 het ek reg gevoel vir dramaskool.

Ek was 'n onseker mens. As kunstenaar of liedjieskrywer verwag mense dat jy selfvertroue het, jy is immers 'n persoonlikheid. Maar op 38 weet ek jy is eers seker van jouself as jy jou onsekerheid kan blootlê aan ander. Anders is daardie selfvertroue 'n fasade. Ek het baie verander en gegroei die afgelope agt jaar.

Ek beskou myself eerstens as liedjieskrywer. Ek perform ja, maar dis nie om my ego te versterk nie. As ek optree, probeer ek myself verloor in 'n lied. Ek is nie belangrik nie. Ek sing uit my maag, anders het dit vir my geen sin nie.

Wou jy akteur word?
Nee, ek het toneelgespeel, maar ek kon nie my eie skryfsels laat lê nie. Ek sou in 'n toneelstuk wees en heeltyd die behoefte hê om my eie ding te sê.

Toe ek drama gaan studeer het, het my pa gesê dis 'n vak van hoerery en onreinheid. 'n Paar jaar later het ek vir my pa gesê hy het gelyk, maar dit is goed.

Is jou liedjies jou eie verhale?
Deels, maar dit is ook universeel. 'n Liedjie soos Papa is eintlik 'n konfronterende liefdesliedjie vir my pa. Dit sê ons het ooreenkomste, al verskil ons.

Die lewe van Stef Bos is nie interessant nie. As jy mense wil ontroer, moet jy sing oor die dinge wat oor miljoene jare heen saak maak, oor angs vir die dood, die liefde, al die groot temas.

Op Bloemfontein het ek 'n liedjie gesing van 'n kind wat 'n peperment kry om stil te bly in die kerk. Toe kom daar enorme reaksie van die gehoor, en jy besef eensklaps dit bestaan al soveel jare...

Het jy 'n meisie?
Nee, ek het effens genoeg gehad! (Lag verleë.) Ek glo in die liefde, maar dis moeilik om dit met my leefwyse te kombineer. Ek woon in Antwerpen, maar die laaste agt jaar reis ek soos 'n swerwer van teater na teater. Ek het tien jaar net gefokus op my musiek, ek het nie werklik tyd vir liefdesverhoudings nie. Ek dink wel oor die toekoms. Ek hou van kinders, ons kliek dadelik. Dalk eendag, wel. Maar ek wil nie 'n kind grootmaak en ek is nooit tuis nie.

Is jy sosiaal?
Ek het twee kante. Die uitvoerende kunstenaar is betreklik sosiaal. Maar die liedjieskrywer het sy eensaamheid nodig om te skryf. Ek kan lank sonder mense wees, maar as ek weer tussen mense kom, babbel ek vir dood. Ek het mense ook nodig, baie.

Is jy bekend in Holland?
In België was dit verskriklik. Die hordes meisies het agter my aangehardloop op straat. Soos 'n popster. Dit was nie my doel nie. Ek het altyd kop onderstebo gestap tot 'n akteursvriend gesê het ek maak myself dan meer opvallend. Dit het'n paar jaar geduur, en toe het ek daarvan weggekom. As jy die weg na roem gevind het, is daar ook die weg terug. Ek het eenvoudig opgehou met TV-optredes. Die Vlaamse mense is gelukkig meer terughoudend. Die laaste paar jaar hou mense van my liedjies; dit gaan nie oor my as mens nie. Dis wat ek wil hê.

Jy het 'n sagte plekkie vir Suid-Afrika.
Nederlandse joernaliste vra my altyd wat bekoor my so van Suid-Afrika. Dis die mense. Die blou berge vind ek immers ook in Switserland. As jy met die mense hier gesels, sien jy ooreenkomste met jouself. Maar daar is iets ekstra by die Afrikaanse mense wat ek mistiek noem. As ek die toneelstuk Uit die Bloute sien, is daar 'n soort kultuur wat nie in Nederland bestaan nie. Dit roer my. Dis iets wat ek nie het nie. Jy sien dit by die liedjieskrywer Koos Kombuis of by Gert Vlok Nel. Ek ken dit nie. Dit boei my.

Jou grootste droom?
Ek wil 'n huis huur in die Kaap vir 'n maand, en al die Belgiese, Nederlandse en Suid-Afrikaanse liedjieskrywers en sangers laat saamkom en idees uitruil. Dit moet so 'n multikulturele kruisbestuiwing wees. Dink net wat kan daaruit kom! Ons moet ander se werk waardeer. As ek 'n mooi liedjie hoor van Koos Kombuis, voel ek positief jaloers. Dit stimuleer my.

Vertel so bietjie meer van jouself.
Ek is 'n denker. Ek is die jongste, ek het dit maklik gehad! My broer, Gerrit, is onderwyser, my suster, Lucy, gee dramaklasse. Ek weet nie waar kom die drang na skryf vandaan nie. My oupa aan moederskant was eintlik onderwyser, maar hy het hom ook afgesonder en geskryf. Hy het sware teologiese goed geskryf, maar hy was 'n vrydenker. As ek op die verhoog staan, is daar dalk meer van my ma in my as van my pa. My pa is 'n rustige, stoere man, gereserveerd.

Vrye tyd?
Vir my is musiek ontspanning. Ek lees baie. Filosofie. Gedigte. Ek het lank sokker gespeel, maar ek het my enkel seergemaak. Ek draf en stap, maar nie fanaties nie. In België is die kroeë tot soggens sewe-uur oop. Ek kuier graag met vriende daar. Dit gaan nie om die drink nie, maar om die gesels.

Ek moet versigtig wees om nie verslaaf te raak aan werk nie. Daardie Protestantse werketiek is ingebed in my.

Ek bied soms werksessies by skole aan. Ek vertel altyd die verhaal van hoe ek as skoolseun geskryf het oor die meisie met die blou reënjas by die atletiek. Ek weet hoe skaam seuns kan wees. Meisies kan in hul dagboeke skryf, seuns nie. Om te skryf kan vir seuns 'n vryheid bied. Dis dikwels mans se grootste probleem, dat hulle nie hul emosies kan uitdruk nie.


< Terug