Persarchief

Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!

 

Stef Bos oor sy lewe in die Kaap

maandag 01 november 2010, Leef, Jacqueline Leuvennink

Stef Bos oor sy lewe in die Kaap

In 'n ander lig

deur Jacqueline Leuvennink Deel met ander Kommentaar (5) Competition
 
0/5.0
In 'n ander lig

Op 48 kan hy skaars glo hy's getroud, pa en gewortel in die Kaap, sê Stef Bos.

"Ek kyk elke oggend saam met my seun na die berg van ons huis in Tamboerskloof. Die berg is..." Die woordeman tas vergeefs na woorde. "Ik ben een Hollander, wat wil jij? Ons kort 'n berg in Holland. Hier weet ek hoe klein ek voor hom staan. Dis soos God. Soms toe onder die wolke. Maar altyd dáár."

Die diep seun (soos hy met homself spot) skuif agter die klavier in, snuit sy neus en sê sy verkoue is beter sedert hy terug in die Kaap is. "In Gauteng spat jou kop mos uitmekaar van droogte. Ek is bietjie van'n waterhoof, kom van 'n klam wêreld af."

En dan vloei die pratery soomloos oor in sy bekende liedjie, Papa, waarin hy jare gelede skrynend eerlik sy eie ongeloof versys sy pa se geloof verwoord het. Die lied van 'n seun wat erken dat hy - ondanks die verskille tussen hom en sy pa - al meer na sy pa begin lyk en al meer van hom begin hou...

Daar is altyd 'n insig / Wat ons nie kan sien nie / Al lees ons die toekoms / Al voorspel ons die weer / Daar's altyd 'n uitsig / By God se venster / Daar's altyd nog lesse / Wat ons kan leer

Iemand in ons geselskap onthou 'n optrede by Paul Cluver se opelugteater digby Grabouw. Stef, onverwags ontroer deur 'n plaaslike klompie werkersvroue se sang in 'n kerkie, het hulle gevra om saam te kom sing van die Here wat so vir hulle sôre. Iets wat 'n teoloog agterna laat opmerk het dat dit die beste preek is wat hy in 'n lang tyd gehoor het.

Dit was Johannes Kerkorrel se hartseer-mooi Hillbrow wat sy hart vyftien jaar gelede gesteel het toe hy dit oor die radio gehor het. Die begin van 'n vriendskap en 'n opwindende kulturele kruisbestuiwing tussen dié twee kunstenaars. "Ralph was met sy liefde vir die land maar ook so kritiese ingesteldheid die een wat my die Afrikaner-kultuur leer ken, verstaan en waardeer het.

"Elke keer as ek ná 'n besoek hier weer op die vliegtuig moes klim, het ek gedink dis nou die einde van dié liefdesverhouding met die land. Maar eintlik was dit maar net die begin."

Sy huwelik met die Afrikaanse kunstenares Varenka Paschke in Februarie verlede jaar laat sy kop deesdae trouens nog meer swaai tussen die kulturele. "Ek voel soms soos die kind van geskeide ouers wat graag wil hê die twee (Holland en Suid-Afrika) moet weer bymekaar uitkom."

Baie voorheen onversoenbare dinge het ook vir hom hier aan die suidpunt van Afrika bymekaar begin vloei. Hy sukkel nog om te glo hy's nou op 48 getroud met 'n kind in 'n ou Kaapse huis met dik mure en hoë plafonne. Daar waar hy nou by 'n ou lessenaar  ("dit móét oud wees...") voor 'n hoë venster sy daklose denke in liedjies en verse verpak, selfs van 'n besoek aan Binnelandse Sake 'n liedjie kan maak.

Maar Stef weet hy moes eers deur die wêreld reis om huis toe te kon gaan, "met vreemdes praat om homself te verstaan," soos hy dit in een van sy liedjies stel.

Vandag weet Stef hy moes eers in Afrika kom leer om nie alles so te wil beheer nie. Hy kon nou 'n nuwe deuntjie begin seing: Ek wil 'n huis in die Kaap, 'n Kasteel in die lug... Ek wil jou nie besit nie, Ek wil jou nie hê nie, Ek wil saam met jou loop, Ek wil langs jou lê... Ek ek wil met jou trou.

Êrens tussen Petrus en Rut, 'n stukkie Stef

Stef beplan beging 2011 'n konserttoer van sy liedjies oor Bybelfigure, In een ander licht, wat baie gunstige kommentaar in Holland ontlok het. Hy het dit in opdrag van die Nederlandse Christelike Radiovereniging gedoen vir hul 85ste bestaansjaar.

Sy oupa was 'n leraar. "EK het met die Bybel grootgeword as 'n boek wat jy met respek benader, jy mors nie daarmee nie." Voor in sy eerste Bybel staan daar in sy pa se handskrif: "De liefde is ongeveinsd. Wees afkerig van het kwade en gehecht aan het goede. Wees elkander in broederliefde genegen."

Dit was 'n onderdeel van sy vorming en kultuur. "Nié die besit van enige denkrigting nie. Die Bybel kan beklem óf vrymaak, dogma wees óf inspirasie. God is wat Hy is, nie 'n speelbal in die verbeelding van die mens wat dikwels iets van Hom maak wat Hy nie is nie."

Tien lesers kan 'n CD wen van Stef Bos:Vyf 'n kopie van Kloofstraat en vyf van In een ander licht.


< Terug