Persarchief

Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!

 

Stef Bos tree sonder 'n tromgeroffel in gesprek met gehoor

maandag 06 maart 2000, Beeld, Kobus Burger

In die internasionale popmusiekbedryf waar kunstenaars voortdurend konserttoere onderneem, loop 'n mens dié waarborg telkens raak. "'n Lekker aand," sal die sanger of sangeres beloof met 'n spesiale klem op vermaak.
Die Nederlandse sanger-liedjieskrywer Stef Bos praat 'n gans ander - taal letterlik en figuurlik. Met basiese kolbeligting, 'n klavier en twee kitare word nie hier van die gehoor verwag om op hul voete te spring, met die hande deur die lug te waai en "treffers" saam te neurie nie.
Sy intro met M'n Hart Gevolgd (in Suid-Afrika bekend as deel van Amanda Strydom se verhoogproduksie The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder) is 'n aanduiding sommer uit die staanspoor dat Bos nie met behulp van 'n tromgeroffel of lasers met die luisteraars in gesprek gaan tree nie.
Al wat hy kan bied, is eerlikheid ten opsigte van sy emosies en 'n universaliteit in sy waarneming van die mens en sy verhoudings. Die musiek (sonder sy volle orkes, wat eers later deel van die toer vorm) is 'n akoestiese skuif weg van die knap verwerkings op sy Beste van Bos-album.
Bos agter die klawers saam met Francis Wildemeersch op kitaar en Johannes Kerkorrel en Tandie Klaasen afwesig kry Awuwa 'n heel ander betekenis rouer en meer opreg as die opgewekte, oorspronklike weergawe.
Die stories agter die stories word die hele tyd ingekleur met Bos se spitsvondige opmerkings en spel met taal. Voor Zondag in Soweto vertel hy hoe hy soos 'n "mannetjie op Mars" in 'n piepklein kerkie 'n ander faset van Suid-Afrikaanse kerkbywoning ervaar het. Pepermunt kry 'n bluesbehandeling wat Bos opsom as "gereformeerde blues'' en terselfdertyd skerts met Johannes Kerkorrel se voormalige orkes, die Gereformeerde Blues Band.
Die erns word afgewissel met 'n voorlesing uit Murray Janson se boek, Waar Kom Ek Vandaan?, wat die gehoor laat skreeu het van die lag. Wildemeersch se kitaarspel is van die boonste rak, veral wanneer hy die fyner nuanses inweef in reeds bekende liedjies.
Die hoogtepunt was egter toe Amanda Strydom tydens die toegif by Bos aangesluit het vir Tussen De Liefde En De Leegte. Bos het toe erken dat dit die eerste keer was dat hy saam met 'n vrou gesing het. 'n Liedjie, wat reeds deel is van Strydom se Afrikaanse repertoire, het diep geroer danksy die twee sielvolle vertolkings in dié spesiale "nuwe'' duet.
Bos het vroeg die aand gespot dat hy saam met sy band beplan om die Kaap later vandeesmaand "weer Hollands te maak". Met dié kragtoer het hy dit selfs in die Jakarandastad reggekry. En om te dink: sonder 'n rookmasjien!


< Terug