Persarchief

Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!

 

‘Vuurvlieg’ se lig kring uit na Europa

vrijdag 20 januari 2012, Die Burger, Mariana Malan

‘Vuurvlieg’ se lig kring uit na Europa

 

Vuurvlieg het in Kaapstad sy vleuels gekry en na Europa gesprei.

Nou het sy skepper teruggekom na die plek waar alles begin het.

Stef Bos beskryf sy jongste vertoning as effe eksperimenteel, ’n kruising tussen skerpskerts, toneelspel en sang.

Bowenal is dit vir hom die regte soort program in hierdie stadium van sy lewe.

“Na die geboorte van my seun Kolya het ek onder die indruk daarvan gekom dat ons almal deel is van ’n groter geheel,” sê Bos.

“Ek het besef nie alle dinge lê in onsself nie. Die geslag voor my was ’n ‘ons’-geslag. Ek en my tydgenote is die ‘ek’-generasie.

“Ek het deur baie ervarings beweeg om perspektief te kry en ek wil dit met gehore deel.

“Ek sing en vertel ’n storie, maar altyd met ondertone van die werklikheid. Ek praat oor dinge wat saakmaak.”

Bos het Vuurvlieg die eerste keer verlede jaar as deel van die buitelugseisoen op die Cluververhoog op Grabouw uitgevoer.

Daarna is hy na Holland en België.

Hy sluit nou hierdie hoofstuk af met twee optredes in die Fugard-teater aan die einde van Januarie en vir oulaas in die Oude Libertas-teater in Stellenbosch in Februarie.

“Ek is soos ’n slang wat elke jaar van vel verwissel. Ek moet elke jaar ’n nuwe vertoning hê.

“Ek is besig met nuwe liedjies wat saam met ’n orkes gesing sal word. In Vuurvlieg praat ek baie.

“Dis nou tyd om weer terug te gaan na waar die musiek die praatwerk doen.”

Dit was vir hom ’n nuwe ondervinding om van die klavier op te staan en voor die gehoor te gaan staan en praat.

“Só is daar niks tussen my en die gehoor nie. ’n Mens kan nogal blootgestel voel, maar dit was nie vir my skrikwekkend nie.

“Dis nou die regte tyd vir my om hierdie vertoning te doen. Toe ek jonger was, sou dit nie gewerk het nie.”

Die Fugard-teater lyk vir hom na die ideale plek in die hartjie van die Kaap om Afrikaans te laat opklink.

“Ek het na Tafelberg staan en opkyk en besef Kaapstad is die plek waar hierdie reis van my begin het.

“Dis die plek waar ek die verhaal graag wou vertel.”

Een van sy projekte vanjaar is ’n boek wat hy saam met sy pa aangepak het.

“My pa (Albertus, wat Bert genoem word) word vanjaar 90 jaar oud. Ons het na skyfies sit en kyk en ek het besef dat ons dieselfde dinge beleef het, maar dinge totaal verskillend sien.

“Ons gaan die boek noem Beelde van wat was, woorde van wat is, met foto’s en my woorde daarby.

“Met hierdie boek sal ek weer ’n bietjie teruggaan na waar ek vandaan kom.

“My lied ‘Papa’ is baie gewild. ek sing dit baie en ek sê die woord sonder om te dink.

“Maar dit was eers toe Kolya my die eerste keer Papa genoem het, dat ek die woord ervaar het.”

- Die Burger


< Terug