Persarchief

Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!

 

potret van twee kunstenaars as twee ooms

zondag 31 maart 2013, rapport, hanlie retief

portret van die kunstenaars as twee ooms

Stef Bos se eerste Koos-oomblik was op die grens tussen Nederland en België. Onder in my, onder in my, onder in my whiskyglas… sugtend oor Belgiese radio. Koos.

“Ek was positief-jaloers, want as songwriter weet jy: f*kkit, dis outentiek, dis ’n goeie song dié.”

Heelwat later, in die middel van ’n nag op ’n sypaadjie in die middel van Stellenbosch, het die twee mekaar ontmoet. Daar was drank betrokke, onthou Koos.

En toe sy dogtertjie gebore is, het een van Stef se liedjies gespeel. Marleen. “En toe’s haar naam skielik Marleen en die volgende oomblik is Stef die peetpa, toe raak ons huisvriende, toe raak dit incestuous,” grinnik hy.

Stef was ’n baie ordentlike ou in vergelyking met wie hý toe was, grinnik Koos twee verstellings hoër.

“Dit was daai tyd toe ek met Kerkorrel begin vrede maak het, besef het ek moet drugs los, dit was ’n oorgang na ’n meer aanvaarbare bestaan, ek het gesoek na nuwe vriende, ouens buite daai kultuur... maar laat ek nie name noem nie, har-har-har.”

Nou’s hulle ooms, albei.

In ’n niemandsland genaamd Middeljare.

Op die rand van suburbia.

Op die rand van normaliteit.

By die KKNK is dié odd couple nou saam op die verhoog: om ’n tafel, aan’t gesels, grappe maak, musiek maak, filosofeer.

Amper soos op hierdie vrolike Dinsdagmiddag in Kaapstad om die Bosse se kombuistafel in Kampstraat. Stef met sy fletsblou oë, Koos met sy fris kierie. Dié’s in die plek van sy sigarette, want “siegrets was altyd vir my ’n kierie. Nou’t ek ’n kierie vir ’n kierie.”

Stef trek Koos se siel uit oor sy quiksilver-T-hemp en Koos waai die geterg weg en Stef tieng-tieng op sy ukulele en Koos se hemp skud op en af van die lag, ene kwiksilwer, en dit word so ’n getjommel van ’n middag tussen licht en donker.

Niemandsland. Dis hul show se naam. Opgekook in die boskombuis, oor die plek waar hulle êrens, iewers tussen Europa en Afrika ontmoet.

Koos: “Ons het ook nog dieselfde Calvinistiese agtergrond...”

Stef: “Én kinders, én getroud-wees. Niks regie nie. Ons sit so. Elke aand is anders. Mense gaan verskriklik hul gatte aflag en hulle gaan ontroer wees.”

Hulle’s nou oud genoeg om hul pose te drop, sê Koos. Om eerlik te wees.

Ja, maar eerlik is ’n moeilike woord, keer Stef. Hy’t geleer dit gaan nie oor eerlikheid op die verhoog nie, maar oor waaragtigheid.

“Eerlikheid is tricky, dis subjektief, dis maar jou eie ding.”

Koos: “As ek eerlik is en ek is op die verhoog soos ek by die huis is, het ek nie onderbroek gedra nie en in my tracksuit gepoep.” Hulle lag sonder brieke.

Die eintlike eerste gemene deler tussen hulle was Ralph Rabie. Johannes Kerkorrel. Déél van Koos se verlede, en die begin van Stef se hede, sy inleiding tot ’n nuwe vasteland.

Nou’t die twee ’n vriendskap. Hulle bly ’n driekwartier van mekaar af en die kinders is opgewonde as “oom Koos”, of “oom Stef” kom kuier.

Koos bly nou ver van Voëlvry, maar darem op die rand, teen die grens van Somerset-Wes, in die laaste straat van die laaste suburb, waar eekhorings in die kombuis kom. “Ek’s nie mal oor suburbia nie, maar dis nie meer ’n politieke issue nie. Daar’s nie meer ’n groepsgebiedewet nie, en as daar nie darkies langs my bly nie, is dit nie my skuld nie, hulle kon gekoop het.”

Hy en sy 12-jarige seun, Simon, werk saam storielyne uit vir sy wetenskapfiksie-verhale vir aanlyntydskrifte in Amerika – so ’n “geheime stokperdjie”.

En Stef: van Ik lag op een bed/ In een kamer in Kloofstraat, tot ’n gesin in ’n hemelblou huis in Kampstraat met ’n oranje (hup-hup-Holland!) Smeg-yskas, ’n spieël in die vorm van ’n boot, skildery van ’n geraamte in ’n rokkie, en ’n wenteltrap dakkamer toe uit essenhout, fyn en lig, die DNS van die huis, noem Koos dit.

Stef het (stylvol) wortel geskiet.

En Koos is, wel, nog Koos.

“Nog net so mal, maar die malheid is nie meer in my personal life nie, dis hier in ’n kamertjie in my kop, ek kan dit enige tyd gebruik in die goed wat ek skryf, maar ek word nie meer in die oggend wakker met asbakke en k*k om my nie.”

Hy kyk om hom: “F*kkit, my huis is amper netjieser as joune!”

Koos se 24-uur-middeljare-krisis is ook agter hom. Toe hy in 2004 met sy rooi klompe uit sy huis geloop het, deur sy voorhek, pad af...

“Ek het net gesnap, en ek en Kannetjie was nie eens unhappy nie!

“Dit was net die Kersfees, en die drieboneslaai, en die mense wat kuier en als het my mal gemaak. Toe loop ek weg, word die volgende oggend wakker en dink: Wat de f*k soek ek hier in die Waterfront? Ek het my familie seergemaak, ons kinders was ontsteld, dit was ’n lelike ding.”

As Koos die mal Don Quichot is, dan’s hy seker Sancho Panza, reken Stef. “Ek is die ou wat sê nee, rustig, dis nie windmeulens nie, jy jaag sommer net k*k aan.”

Soos Sancho is Stef iemand wat stadig ontwikkel, wat eers begin blom het rondom sy 40’s. Hy is gebore bo-op ’n juwelierswinkel in Utrecht, en sou soos pa Bos ’n goudsmid word. Toe begin hy op 25 klavier speel.

“Ja-ja, voor dit het ek eers sielkunde geswot. ’n Belgiese sanger wat vir my klas gegee het, het gesê as sanger moet jy jou eie stem vind. Koos, weer, se Voëlvryjare het hom gedefinieer.”

Tien jaar terug wou studente vir ’n projek Koos se openbare beeld herontwerp. Gratis en verniet.

“Ek sê toe ek vat nie meer drugs nie, maar my fans dink steeds ek is Keith Richards, hoe verander ek dit?

“Hulle stuur vir my hierdie portfolio: ‘Jy moet begin gospel sing.’ Ek het my vrekgelag. Nee! assebliéf net nie dit nie!”

Hy vee oor sy kaal kop, die rooi bandana bly deesdae in sy broeksak. Grynslag: “En daar’t ek toe nou wragtag ’n spiritual album uitgebring! Dertien. Dis nou nie gospel nie, ek gaan nie kerk toe nie, maar ek het daai element weer ontdek en ek laaik dit. Daar’s nie ’n bottel wyn op die cover nie en min vloekwoorde in die songs.”

Heng.

In sy boek skryf Koos die Voëlvrybeweging het hom gedamage...

Hy blaas sy asem stadig uit.

“Jis, hectic. Ek weet ons moes dit doen. En ek is bly ons het. Ons was baie brave en ’n bietjie mal, maar... ek kan nie dínk oor daai tyd nie, weet jy. Jissis. Al daai interpersonal relationships wat so skeefgeloop het, oor so baie redes. Die helfte van die ouens is al dood en hier sit ek nou.”

Eintlik het hulle álbei geëmigreer?

Koos: “Ja! Dis waar!” slaan hy op die tafel.

Stef: “Landverhuisers. Ek van land, hy na ’n ander land in sy kop.”

Koos: “Niemandsland.”

Die eerste deel van Stef se lewe was in Nederland, toe in België vir toneelskool, en die derde deel in Suid-Afrika. Al drie lande waar hy die klank van sy ma se taal kan hoor.

“Dis my pad, dink ek nou maar.”

As hy deesdae in Nederland toer, sê hy, is sy kop daar, maar nie meer sy hart nie.

Want jy’s vir my nie jou verlede/ Jou sentiment jou Ossewa/ Jy’s vir my alleen die toekoms/ Jy vir my Suid-Afrika, sing hy.

“Op die ou end moet jy kies, en ek wou my kinders hiér grootmaak, in hiérdie land, mét al sy k*k en hare. As hulle in Holland skool moes gaan, sou hulle die werklikheid van die wêreld sien met ’n remote op die TV.”

Koos se reis was korter.

“Ek vat my kinders soggens skool toe. Ek is wel moerse konvensioneel in my lewe, maar ek speel darem nog nie gholf nie,” runnik hy vrolik.

En die prys vir skooltoebroodjies en skopfietsies? Kreatiwiteit?

Stef moes ’n kroningslied vir die nuwe Nederlandse koning skryf met sy babadogtertjie op sy skoot voor die klavier, vertel hy. “Voor die kinders kon ek nagte lank skrywe, nou vind ek ánder maniere. Die mooi ding van kinders hê, is hoe jy die hele siklus van die lewe herhaal, hoe taal homself vassit in ’n kind, jou verhouding met jou ouers.”

Of die gebrek daaraan.

Koos: “My pa was ’n small town conman wat Golden Products verkoop. Hy’t nooit gedrink nie, my nooit gebliksem nie, maar hy was nie dáár nie. Ek en my ma... sy’s nou 96 en ons is nogal besig om close te raak, haar kop is nog fine. Haar generasie vroue het geluister vir die man, en nou’s hy dood en steeds kan sy niks leliks van hom sê nie, sy dink net ek en hy het mekaar nie mooi verstaan nie.

“Wat waar is, nè...”

Jy sien foto’s van Stef en Koos as kinders. Albei ernstige laatlammers. Albei eenkantkinders. Hulle’t geskryf teen die alleenheid, verbeeldingswêrelde opgebou, Stef met sy brilletjie, Koos met sy intense kyk vir die kamera.

Stef: “Tot my 16de jaar skaam, onseker. ’n Bietjie van ’n grysmuis. En eintlik ís ek, my vrou sê dit ook. By die Woordfees het ek gegrap: Ek is baie romanties op die verhoog. My vrou sê toe ja, probeer dit ook so ’n bietjie by die huis!”

Koos se enigste kleintydvriende was Kytie, die huiswerker, en sy hond Hamlet.

“Weird naam vir ’n foksterriër, my ma het Engels gegee, sy’t Hamlet met die kinders gedoen. Ek wonder of dit hom gepla het. Of hy nie maar net Vlekkie wou wees nie.”

Ons kyk na Koos, hande leunend op die kierie.

Stef: “Hy lyk ’n bietjie soos ’n ou Transvaalse oom op ’n stoep! Iets tussen Paul Kruger en Siener van Rensburg, ja!”

Koos se quiksilver skud op en af.

Ons neem foto’s. Hulle tjommel oor hul dogters, die misterie van meisiekinners, Stef se Lorelei, gebore au natural in ’n plastiekbad vol water in hul sitkamer teen die hange van Tafelberg, Marleen wat reken pa Koos se poging tot ’n kinderverhaal suig...

My vrou en my kierie, my vrou is my kierie, sing hulle en reis deur die lewe en die ukelele tieng en hulle lag vir mekaar.

Lág met mekaar.


< Terug