Persarchief

Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!

 

recensie concert Stef & Koos in Windhoek, Namibie uit 'De Republikein'

vrijdag 06 september 2013, Republikein, Francoise Steynberg

Koos en Stef steeds legendes

Voorgelê deur Republikein op Vr, 2013-09-06 08:25

Twee legendes, Koos Kokmbuis (links) en Stef Bos. Foto Francoise Steynberg

Francoise Steynberg -

Legendes Koos Kombuis en Stef Bos het emosies van Woordfeesgangers Woensdagaand by die Nasionale Teater van Namibië (NTN) laat wipplank ry.Dit was 'n emosionele rit gedryf deur twee gesoute sangers en jarelange vriende wat Woordfeesgangers laat lag én trane agter die ooglede laat brand het. Koos, die Suid-Afrikaanse sanger uit die Voëlvry-era en die Nederlander Stef se paaie het gekruis met Koos se “Onder in my whiskyglas” en van daar is 'n stewige musikale én vriendskapsband opgebou.

"Jy kyk na jou ma asof sy 16 jaar oud is as jy as jy ‘Onder in my whiskyglas’ hoor," sê Stef wat meen Afrikaans is die jonger weergawe van Nederlands.
Koos vertel almal was gaande oor die simboliek van die drie skepe waarmee Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het in “Onder in my whiskeyglas”, "maar ek het eintlik maar net oor Three Ships-whisky gesing".
Koos op kitaar en Stef op klavier het die aand afgeskop met 'n medley van hul gewilde liedjies soos “Suikerbos”, “Liza se klavier”, “Ek heb jou lief”, “Nog een glas vodka”, “Johnny is nie dood nie” en Johannes Kerkorrel wat saam met Koos in die Voëlvry-beweging was, se “Hillbrow”.
Koos vertel dat hy net een keer in die NTN in Windhoek tydens 'n Voëlvry-konsert opgetree het, maar dat hulle uitgegooi is. Stef het al deur Namibië gereis, maar dit is sy eerste optrede in dié teater.
Een van Koos se mooiste liedjies, “Atlantis in my lyf”, het hy in Namibië geskryf. Uiteindelik is hy met Namibiër Kannetjie Verster getroud.
"Jare later het ek foto's van die optrede in die NTN gesien en sowaar, daar staan Kannetjie in die gehoor op die foto."
Stef se “Kloofstraat” was 'n emosionele hoogtepunt: "Ek lê op 'n bed in Kloofstraat, agter die berg kom die son op" en dan vra hy die vrae oor die liefde "wat maak jy in my kop, wat maak jy in my hart, wat maak jy in my huis, wat maak jy in my toekoms, wat maak jy in my verlede, wat maak jy in my lyf, wat maak jy in wêreld, wat maak jy in my woorde?"
Stef vertel dat hy en Koos albei "laat in ons lewens in die huweliksbootjie ingestap het". Stef is ook met 'n Afrikaanse meisie getroud en hulle woon in Kaapstad en het 'n seun en 'n meisie.
Ná die liefde, sing die twee oor hul dogters, Koos oor sy Marleen en Stef oor Lorelei wat vernoem is na die Lorelei-standbeeld in die Ryn in Duitsland. Stef is Marleen se peetpa en sy is gebore met Stef se musiek in die agtergrond.
Hul volgende tema is lande en Stef sing 'n Duitse liedjie spesiaal vir die Duitssprekendes van Namibië.
"Ek kon nie glo toe ek hier in Afrika in Swakopmund Duits hoor nie."
Hul “Toekoms is in Afrika” roer en “Die tydbom tik” van Stef en Koos se “Oorlog van die Lem” ruk.
Die tema spiritualisme is volgende aan die beurt en Koos vertel dat hy die Chinese I Ching in Afrikaans vertaal het. Stef vertel dat hy “Jou land is my land” vir vreemdelinge in 'n land geskryf het toe hy in 'n lang ry by binnelandse sake in Kaapstad saam met 'n klomp vlugtelinge uit onder meer Rwanda en Somalië gestaan het.
Hulle sluit 'n genotvolle aand af ná 'n staande applous van die gehoor met Koos se gewilde “Almal wil 'n huisie by die see” hê. Koos en Stef is dalk nou “ou toppies”, soos hulle hulself noem, maar voorwaar nog legendes wat lekker kan konsert hou!


< Terug