Persarchief

Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!

 

Bos bring ‘Stillewe’ na SA

donderdag 19 februari 2009, Die Burger, Mariana Malan

Bos bring ‘Stillewe’ na SA
18/02/2009 06:35:15 PM - (SA)

 

Stef Bos maak met sy jongste bundel, Stillewe, ’n terugkeer na die KKNK in Oudtshoorn ­vanjaar. MARIANA MALAN het per e-pos met hom in Europa gesels:

 

Jy sê jou jongste boek, Stillewe, het sy ontstaan gehad het gedurende jul reis deur Suid-Amerika. Is dit ‘n deel van die wêreld wat introspeksie en ­skeppingsdrang aanwakker?

 

Ja, Suid-Amerika het my kop ’n ­bietjie oopgemaak. In die algemeen doen reis dit met my omdat jy in ’n ­ander kultuur skerper kan sien ­vanuit jou eie kultuur en wie jy is en wat jy dink.

 

Maar ’n mens dink ook beter ­wan­neer jy beweeg; jy sien dinge wat jou voed: in Buenos Aires het ons twee pragtige ou mense gesien wat nog lief is vir mekaar en voor ons uitloop, ­geboë en in mekaar verstrengel. In die boek het dit ’n pragtige beeld deur Varenka (Paschke, die kunstenaar) geword en woorde oor liefde en ouderdom ontlok.

 

 

Die fees van die dood wat julle in Mexiko meegemaak het, klink fassinerend. Het dit enigsins jou siening van die dood ­bevestig of verander?

 

Dit het my geleer dat ons in Westerse denke altyd dinge wil skei: goed en kwaad; hemel en hel; lewe en dood. En dat dit nie so eenvoudig is nie.

 

Dis vir my so mooi soos die Siel van die Mier van Eugène Marais, waarin hy bewys dat die miershoop soos ’n menslike liggaam funksioneer: As jy ’n stokkie daarin steek, gaan die een groep miere oorlog teen jou verklaar, en die ander herstel die gaatjie. Hulle werk soos wit- en rooibloedliggaampies. Maar tegelyk dink die miere ­miskien hulle is ’n lewe op hul eie; hulle is nou moerse belangrik, maar eintlik is hulle deel van ’n groter geheel.

 

Ek dink die mens is ook deel van ’n groter geheel; die lewe is deel van ’n groter proses wat tot die dood lei. Dis soos ’n boom wat sy blare in die herfs verloor, en hulle val op die grond en vorm die voeding vir die boom wat ­verder groei.

 

Die mense wat ek geken het en nie meer hier is nie, is in elk geval nog ­altyd in my gedagtes en in wat ek sing en skryf. In Mexiko laat hulle een keer per jaar dié gedagtes tot lewe kom. Wat is mooier as wanneer jy kan kuier met die mense wat nie meer hier is nie?

 

 

Is Stillewe die bundel wat jy nog altyd wou skryf, of verteenwoordig dit ‘n ­spesifieke tyd in jou lewe?

 

Ek dink in Stillewe het ek ’n manier van werk gevind wat anders was as voorheen. Voorheen het ek die woorde kant en klaar aan ’n kunstenaar gegee en dan verder gewerk. Nou was daar ’n voortdurende wisselwerking tussen my en Varenka. Dié boek sou ek nie sonder haar só kon skryf nie, en ek dink ook andersom. Die volgende vers het ek geslyp met haar beelde:

 

Het onzegbare

 

willen zeggen

 

En het niet kunnen

 

Het onzingbare

 

willen zingen

 

En het niet kunnen

 

Het onmogelijke

 

Mogelijk willen maken

 

En het niet kunnen

 

alles niet kunnen

 

En het toch doen

 

 

Wat kan die gehoor wat gaan kyk na die vertoning Stillewe, wat op die KKNK in Oudtshoorn debuteer, te wagte wees? Is dit op die patroon van voorlees met musiek?

 

Mense kan verwag om die venue te verlaat met ’n lus om te leef. Toe ek in 2008 besluit het om oorsee te toer met nuwe liedjies, het dit ’n ontploffing van nuwe woorde en musiek in my kop ­veroorsaak, en ek dink ek het daardeur ’n ander kreatiewe vlak binne­gegaan. Kombuis sê dis my beste werk nog en ek hoor dit in Holland en België ook. In elk geval skryf ek anders – ek sê en sing “ja” vir die lewe, waar ek voorheen meer “miskien” gesing het. Maar die ontroering bly daar; ek soek ­hoen­dervleis, en jy lag ook, want dit maak ­alles lig.

 

 

In die KKNK se programnotas staan dat jy verskeie liedjies gaan sing wat jy verlede jaar direk in Afrikaans geskryf het. Sluit hulle tematies by die boek aan?

 

Ja, soms sluit dit direk aan by ’n liedjie soos “Komatiepoort”, wat ek twee weke gelede die eerste keer in Holland gesing het. Dis geskryf op die grenspos by Mosambiek waar jy ­lekker tyd kry om te skryf:

 

Daar is altyd ’n wêreld

 

Wat jy nog nie ken nie

 

Daar is altyd ’n taal

 

Wat ons nie verstaan

 

Een deel van jouself

 

Waarvan jy vergeet het

 

Daar is altyd ’n pad

 

Wat jy nog kan gaan

 

Daar’s altyd ’n lewe wat jy nog kan leef

 

Daar’s altyd ’n grens om verby te ­beweeg

 

(Komatiepoort 2009)

 

 

Raak dit vir jou toenemend makliker om direk in Afrikaans te skryf?

 

Die taal – waar my verliefdheid op die land en kultuur begin het – kruip meer en meer onder my vel. Ek weet ek bly êrens in ’n niemandsland ­tussen Nederlands en Afrikaans; soek ’n kruisbestuiwing, ’n crossover. Ek wil ook hê dat mense hier in Europa Afrikaans leer verstaan omdat dit so ’n bef–kte taal is. Maar dis veral ’n taal waarin ek my hart kan loslaat,waarin dit soms meer kan sing as in ­Ne­derlands. Miskien omdat die taal tog ’n bietjie vreemd bly vir my, is ek ook meer onbevange en skaamteloos.

 

 

Het jy al ooit in Afrikaans gedroom?

 

Ja seker en sterker nog: ek word soms wakker in Afrikaans.

 

 

Wat is vir jou die voorvereiste vir ‘n ­liefdesverhouding met ‘n taal?

 

Leer haar ken, laat haar wees wie sy is en voeg jou verbeelding aan haar toe om haar mooier te maak. ’n Taal is deel van ons kollektiewe onder­bewussyn; dit was al daar lank voordat ons daar was; dis die klank wat ons kan ontroer, want ons het die klank al gehoor toe ons nog in die buik van ons ma was. Dis ons ma se taal en ons moet dit meevat die toekoms in.

 

 

Is die kunstenaar Varenka Paschke se werk ’n interpretasie van jou woorde, ­kom­mentaar daarop, of gee sy bloot weer wat jou woorde uitlok?

 

Varenka se beelde en my ­woorde het naas mekaar gegroei. Dit kon wees dat ek het ’n bladsy vol woorde ­gehad het en vervolgens die beeld gesien het wat sy gemaak het, en toe besluit het ek gooi al die woorde weg en hou slegs één sin, want die beeld vertel genoeg.

 

 

Het daardie proses instinktief gekom of het julle dit lank bespreek?

 

Kreatiewe prosesse bespreek ek nie; dit gebeur. Dit stroom soos ’n rivier na die see en soek sy eie weg. Agterna kan jy dit analiseer, maar nooit op die ­moment nie. Varenka het nie geweet sy gaan ’n boek met snaakse geraamtes skilder nie. Dit het eers in ­Mexiko gebeur toe ek haar eerste sketse sien. Ek’t nie geweet ek sou ’n sin skryf soos: “Die soen soek na ’n mond” nie.

 

 

Is jy reg om “stil te begin lewe”, of broei daar nog te veel idees in jou kop?

 

My “stillewe” is nog ver. Ek het tot 2011 ’n vol agenda. Ek werk vir die Hollandse TV aan ’n projek met simfoniese orkes waarvoor ek 12 nuwe liedjies skryf en verwerk oor mense uit die Bybel. Die lied van Job is al klaar. Ek gaan Amanda Strydom ook vra om iets te skryf. En dan gaan ek in April 2010 met Louis ­Mhlanga en ’n trekklavierspeler van Madagaskar en ’n Portugese fado-sanger toer om te ontdek watter pragtige ­musiekkinders daar gemaak kan word. En dan verdwyn ek vir twee maande wanneer almal sokkermal raak.

< Terug